Diet For Weight Loss




Facebook

  
Weltevrede Blogs

Click on the Blog Heading to Read the Whole Blog Entry and all comments


Jul 14

Written by: admin
Thursday, July 14, 2011 

Ek is genooi om te pars by Champagne Piollot in die dorpie Polisot. Dis al klaar genoeg om ‘n misverstand te veroorsaak. Wat nog te sê die taal.

 

Ek stap die kelder binne en voel my dadelik tuis tussen kratte vol druiwe,’n ou tradisionele mandjiepers, ’n Bucher-sakpers en vurkhyster. By die mandjiepers staan drie mans. Ek vra na ’n Roland Piollot en hy identifiseer homself, ‘n vriendelik man met swartgrys poniestert in sy veertigs. ”Je m’appelle Philippe. Je suis le Sudafricaine,” verduidelik ek. Hy begryp, wys my om vas te staan en hy verdwyn om die hoek. Die ander twee mans werk in stilte die doppekoek in die mandjiepers los. Ek neem ‘n vurk wat teen die muur staan en val by hulle in. Hulle verstaan die Afrikaanse gebaar van my: ek is nie net hier om hulle gade te slaan nie; ek is ook hier om hand aan die ploeg te slaan. Roland het sy vrou, Dominique, opgespoor wat met haar sterk Franse aksent my in Engels kom groet. Sy wys my deur die kelder en vertel van al die Franse reëls en regulasies. ”We are obliged to . . .” is omtrent die begin van elkeen van haar sinne. Obliged to grow vineyards where the AOC determines. Obliged to start harvesting when the authorities determine. Obliged to load only 4 tons per press. Obliged to get only 22.5 hectoliter per press. Ek waardeer ons vryheid in Afrika om self te kan besluit wat goed is. Ons keer terug na die kelderwerkers, Roland skiet ‘n bottel Champagne en skink vir ons elkeen ‘n glas vol. Ons drink hom leeg, plus nog ‘n optop, graaf in die een hand en glas in die ander hand, en ek word ‘n paar raakvat-handskoene en ‘n goiingsakvoorskoot aangegee. Bo-op die stillasie van die Bucher help ek een van die ander werkers kratte druiwe in die pers uitgooi. Ons praat nie eintlik nie, want ons is beperk tot my Frans; hy ken nie soveel soos yes of no in Engels nie, blyk dit. Ons werk in stilte. Sy hande en dié van die ander wat in die kelder werk is sterk en grof, gekeep met swart rooiwynvlekke. Geduikte stomp vingernaels. Vingers wat in masjiene en oralster handig is. Nie taalmeester nie. 50kg kratte wil gehanteer wees. Ek het lanklaas hande-arbeid gedoen, maar ek is immers uit Afrika, van die land van Le Springbok. Hulle moet my mis as ek die dag hier waai. My armspiere aar en ek breek lieflike klein Champagne-windjies wat in my opborrel. Die pers is gelaai en ons klim af. Nog ’n Champagne-prop waai. Dié keer ’n 2006 rosé van 100% Pinot Noir. Almal deel daarin.

 

My volgende opdrag is om te help druiwe oplaai in die wingerd. Agter op die trekkerwa ry ons deur die dorpie Polisot tot by die steil wingerdjie van 3 hektaar. Twee derdes van die wingerd is al klaar gepluk en die kratte staan vol in die rye af - volgepluk deur die eienaars van die wingerd: Die jong pa en ma, en hul vier kinders - die twee dogters, seker 8 en 10 jaar oud, die seun, seker so 6, die kleinste wat in ‘n stootwaentjie slaap – op en af saamgekarwy in die wingerdrye teen die helling – en die hond. Dis al. Net die kinders en die pa en ma. Hierdie Europeërs kan hard werk en weet van selfdoen. Waar ek vandaan kom sê ons: ”Gee my tien man, dan doen ek sommer die joppie self.” Nie hier nie. Hier werk hulle self. Hard en slim. In stilte pak ek en twee Franse tydelikes die kratte op die wa. Ons ry die stapel kratte kelder toe. Ons laai af en ek gaan help weer met ’n vurk die mandjiepers se doppekoek losmaak. Roland pak die kratte met die vurkhyster op stapels, hy en sy 2jarige seuntjie op die skoot. Dominique weeg en doen sapaanpassings. Die oumatjie kom ingeskuifel, koeldrankglas in die hand, skep sap onder die pers, hou dit in die lig, proe en wys haar duim in die lug. Nog ’n Champagne-kurk skiet. ’n 2003 rosé. En toe nog een. ’n Prestige Cuvée. Ek raak ligvoets van borrelsiekte. Ek het seker al man alleen meer as ’n bottel in en ek is honger gewerk.

 

’n Man kom by die kelder ingestap met wat vir my soos ’n branderplank lyk, of minstens ’n groot skaatsplank: dis die dorp se bakker wat ’n bielie van ’n baguette omarm. Hy kry ook ’n glas Champagne. Ons ruim bietjie op en hulle nooi my vir middagete. Die huis se eetkamer is aan die parskelder. Dominique kom skep ’n groot beker vol sap onder die pers en sy sit dit op die tafel, die baguette in groot skywe gekerf op die plastiek tafeldoek. Ons is almal om die tafel: Van die ouma tot die tweejarige in sy hoëstoel, ons kelderwerkers, ook ’n vrou wat soos ’n koshuistannie lyk – gedoende hare en permanente verwonderde glimlag. Ek vermoed sy werk in die huis. Ons almal se Champagneglase word vol en genadiglik kry elkeen ook ’n diklip koeldrankglas wat al vaalgekrap van baie gebruik is. Dit word uit nog ’n kruik tot by die diklip volgeskink met donkerpers sap, maar my eerste diep sluk ontmasker dit as rooiwyn. Ek skep ruim van die bak gekerfte tamaties-en-pietersielie wat omgestuur word, want dit lyk nie vir my substansieel genoeg om met al die wyn tred te hou nie. Ek werk vinnig aan die rooiwyn om dit leeg te kry sodat ek my glas vol sap kan maak, maar die ou langs my se glas is gelykertyd leeg en hy is bly om ‘n meedoener te hê en gooi my glas weer vol rooiwyn. Genadiglik blyk die tamatiedis net voorgereg te wees en ‘n streeksdis van kool, wortels en gerookte vark word bedien. Lanklaas, indien ooit, het ek my al so vergryp aan kool.

 

Die geselse raak al meer gesellig. Hulle lag vir my Frans. Ek lag vir hulle Engels. Later nog lag hulle vir hulle eie Frans. Hulle vertaal krom en skeef. Hulle wil weet vir hoeveel geslagte ek al wit is. Inhibisies verdrink en die stilstes probeer ook nou hul sê sê in ’n vreemde taal. Almal raak al meer understanding. Niemand praat meer korrek nie, maar who cares? Samehorigheid het die nuwe taal geword en skielik is almal duidelik. Obrigada. De nada. Cabbage. Por favor. Carrots. Pork. Merci. Hulle wil almal in Suid-Afrika kom pars. Sonder betaling. Net eet en drink. Diminique gaan check op die pers. Hy loop nog. Kase kom oor die tafel aangekruip na my toe. Of so lyk dit, so sag, so lewendig. Ons eet fromage met groot gate en sagte witskilles wat mens ’n myl kan ruik. Ons sluk dit dankbaar met nog rooiwyn weg. Bruin pannekoeke word bedien en compot de pomme, ’n appelpulp. Chocolate koekies. En ’n salige kan koffie word uiteindelik op die tafel neergesit. Maar daar is nie koppies nie. Ek hou die ander dop. Hulle skink dit in hul leë koeldrankglase. Myne is intussen weer vol rooiwyn gekruik. Ek skep asem en slaan dit weg, skink my glas vol lou, sterk koffie en slaan dit ewe vinnig weg. En nog een, en nog. Ter wille van herstelde helderheid.

 

Dis ruim langer as twee ure se eet wanneer ons opstaan met ’n kombinasie van ooreet wees, dronk voel en vol jitters van al die koffie wees. Almal vaar die kelder in ’n goeie luim binne. Die pers word leeggemaak en ek sweet minstens twee glase wyn tot niet met die volgende laaislag, wat Roland noop om nog ’n Champagne te skiet. Almal gesels nou saam om die bruisende glase. Ons raak tegnies. Oor wynmaak. Oor swaelvlakke, appelmelksuurgisting. Organiese en biodinamiese wynmaakpraktyke. Oor die Franse sokkerspan wat so vrot gevaar het. Oor Nelson Mandela, Asterix en Obelix. Oor Bartholomias Dias en Vasco da Gama. Oor 1655 se wyn. Ons werk die mandjiepers se doppe uit. Ons laai weer die Bucher en mandjiepers, dié keer sommer wit- en rooidruiwe deurmekaar in een pers – niks obliged meer nie. Die 50 kilogram kratte voel sweerlik nou na 60. Hulle is oorlaai. Sylvain, my makker, dink ook so. Die pers is gevoer en Roland deel biere uit. Ek is taai en gekneus en die horlosie sê dis tyd vir my om te gaan. Die ander lyk ook nie lus vir ophou werk nie. Ek groet met twee bottels Champagne in die hand.

 

Vir ‘n kelder met sulke goeie wyn, reputasie en sukses, is hul wynmaak verbasend resepmatig. Hulle toets nie eens veranderlikes soos pH of suur nie en slaan in die algemeen min ag op ontledings. Maar hulle het die aanvoeling, die passie. Mens sien dit in hulle almal, die ouma tot die kinders. Hulle geniet wat hulle doen. Joie de vivre. En mens proe dit sweerlik in hulle wyn.

Tags:

Your name:
Your email:
(Optional) Email used only to show Gravatar.
Your website:
Title:
Comment:
Add Comment   Cancel 


You must be logged in and have permission to create or edit a blog.
 


 

Search