Written by: admin Thursday, July 14, 2011
Wat uniek aan hierdie groeiseisoen is, is die groot hoeveelheid winddae wat die Wes-Kaap ervaar het. Die Suid-Oostewind was koel en het die verskynsel van millerandage of hen-en-kuikens by baie wingerde veroorsaak. ’n Druiwetros het dan net enkele normale grootte korrels en die res is piepklein en pitloos. Dit het natuurlik ’n groot impak op hoeveel ons oes en veral die ou Muskadelwingerde lewer hierdie jaar min druiwe.
Die parsery van die Pinot Noir en Chardonnay het tydens die eerste week van die jaar afgeskop en die vonkelwyndruiwe het baie mooi ingekom. Ons het uitsonderlike warm dae vroeg Januarie beleef wat die rypwording skielik ‘n sprong vorentoe gegee het. Die ryper Chardonnay van die River’s Edge, Place of Rocks en Rusted Soil Chardonnay het vroeg oggende met perfekte gesondheid, intense geure en goeie ontledings ingekom. Bietjie donderweer en humiditeit in Februarie het gemaak dat ons baie vinnig die Sauvignon blanc moes oes, wat die 2011 waarskynlik ‘n ligter, varser styl sal maak.
Terwyl ek hier skryf is die rooiwyne nog nie geoes nie, maar ons het wel begin met van die ou Rooi Muskadel wingerde. Die klein korrels in die trosse het ‘n groot impak op die kleurintesiteit wil dit voorkom, so ek wil glo dat ons hierdie jaar kan uitsien na goeie rooiwyne met mooi diep kleur.
Oor die algemeen sal die 2011 oesjaar seker nie in die anale aangeteken word as die mees indrukwekkende nie, hoewel ook nie die slegste nie, en slim selektering van druiwe vanaf uitsoekwingerde en wyse wynmaakbesluite behoort ‘n aantal mooi wyne uiteindelik te laat deurkom.
0 comment(s) so far...
Terms Of Use | Privacy Statement (c)copyright Weltevrede Wine Estate. All rights reserved. website design and development by evoDev